Die Nasionale Vergadering van die Republiek van Suid-Afrika
Debat: Erfenismaand
Datum: 14 September 2011
Spreker: Linda Moss
Agbare Voorsitter
Agbare Ministers
Agbare Adjunkministers
Agbare Lede van die Parlement
Geagte Gaste op die Galery
Dames en Here
Suid-Afrika is besig om te herrys uit `n onstuimige geskiedenis. Vir die eerste keer sedert die stryd om hierdie kuslyn geniet ons demokratiese vryhede. Die botsing van kulture lei nie noodwendig tot onderwerping en heerskappy nie. Dit kan ook lei tot die subtiele kruisbestuiwing van idees, woorde, gebruike, kunsvorme, kookkuns en godsdienstige praktyke. Hierdie dinamiese wisselwerking het altyd `n rol gespeel in die kulturele verryking wat `n buitengewone vrugbare en unieke Suid-Afrikaanse kultuur tot gevolg gehad het en wat ons nasie, in sy taalkundige, kulturele, kulinere en godsdienstige diversiteit, op so baie wyses saamgevoeg het.`n Volk sonder `n verlede is `n verlore nasie. En mense sonder `n verlede is mense sonder `n gees.
Afrika word vandag erken as die wieg van die mensdom. In ons deel van die kontinent het ons `n ryke en uiteenlopende verlede wat eers nou vir sy kompleksiteit en diversiteit waardeer word. Ons erfenis is inderdaad die fondament waarop ons werk om ons samelewing te herbou. Voorsitter, my boodskap vandag is om vreugde te vind in die rykdom van ons samelewing. Ek dring daarop aan dat u dink aan die talle geleenthede wat elkeen van ons, die gemeenskappe, ons land en ons kontinent het. Ek wil graag he dat u dink aan hoe anders u erfenis in baie opsigte is as die van u ouers. Dink ook aan die besondere eienskappe wat u aan die geslagte voor u bind - aan temas en tradisies wat u lewe gevorm het soos byvoorbeeld die vryheids liedere, slagspreuke, gedigte and toboots danse.
Die beginsel van vryheid van uitdrukking is `n fundamentele vereiste vir die demokrasie. Gewortel in vryheid van uitdrukking en kreatiewe denke, speel die kunste, kultuur en erfenis `n belangrike rol in ontwikkeling, nasiebou en die volhoubaarheid van ons ontwikkelende demokrasie. Die Suid-Afrikaanse samelewing het `n wesenlike transformasie ondergaan. Ooreenkomstig die beginsels van geregtigheid, demokrasie, nierassigheid en nieseksisme, staar elke sektor van ons samelewing verandering in die gesig. Terwyl dit sommiges kan omkrap, bring dit vir ander hoop dat hulle behoeftes, sienings en begeertes nou ook deel van die hoofstroom word. Suid-Afrika se eerste verkose demokratiese regering het bygedra tot hierdie proses deur die eerste ministerie van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie te skep.
Voorsitter, vir die doeleindes van Erfenismaand, geld die volgende:
- Kunste verwys na, maar is nie beperk nie tot, alle vorme en tradisies van dans, drama, musiek, musiekteater, die visuele kunste, kunshandwerk, ontwerp, die geskrewe en mondelinge letterkunde, en kollektiewe kreatiwiteit en uitdrukking deur middel van opvoerings, uitvoerings, aanbiedings, uitstallings, oordragte en studie.
- Kultuur verwys na die dinamiese totaliteit van onderskeidende geestelike, stoflike, intellektuele en emosionele eienskappe wat `n samelewing of maatskaplike groep kenmerk. Dit sluit in die kunste en briewe, maar ook leefwyses, die fundamentele regte van die mens, waardestelsels, tradisies, die erfenis en oortuigings wat met verloop van tyd ontwikkel het en aan verandering onderworpe is.
- Erfenis is die somtotaal van wildtuine en natuurparke, plekke van wetenskaplike en historiese belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur en musiek, mondelinge tradisies en museumversamelings, en die dokumentering daarvan wat die grondslag vorm vir `n gedeelde kultuur en kreatiwiteit in die kunste.
Suid-Afrika ondervind inderdaad `n kulturele Renaissance. Kulturele uitdrukking en identiteit is, soos taalregte en toegang tot grond, sommige van die belangrikste kwessies van die dag.
Dit is nie `n verrassing nie dat die dominante temas, wat hierdie velde kenmerk, `n gemeenskaplikheid met temas elders het - bestuur, toegang en finansies is die groot uitdagings, en hulle moet ons trompop aanpak.
Ondanks die relatief klein begrotings wat geassosieer word met die bevordering van die kunste, kultuur en erfenis, word veranderinge in toekenning deur sommiges as `n bedreiging vir identiteit ervaar, terwyl verandering vir ander te stadig geskied.
Hierdie Renaissance in die Suid-Afrikaanse kunste is afhanklik van `n beleid wat billikheid verseker en wat verbind is tot die bevordering van `n bewussyn wat diversiteit vier. Die kunste, kultuur en erfenis kan nie uit hierdie transformasieproses uitgesluit word nie, want ook hulle is in die apartheidsera openlik geraak deur die wanverspreiding van vaardighede, hulpbronne en infrastruktuur. Aangesien die kunste uitgaan van die veronderstelling van vryheid van uitdrukking en kritiese denke, is transformasie op hierdie gebied belangrik om die kreatiewe stemme regdeur die land te bemagtig, en dus integraal tot die sukses van die demokratiese projek. Dit is `n nasionale tragedie dat ons praat van `n kultuur van geweld - in die gemeenskap, in die gesin, teenoor kinders. As kultuur die gom is wat die maatskaplike stelsel sterk hou, dan is dit duidelik dat die kern nie gesond is nie. Om hierdie rede sou `n niebelegging in die kunste, kultuur en erfenis `n ernstige kortsigtigheid uitmaak aan die kant van die regering en `n versuim om die genesende en ontspanningspotensiaal van die kunste en kultuur in `n tyd van nasionale heropbou en herstel te erken. Dames en Here, onderwys is deel van kultuur, en kultuur word deur onderwys oorgedra.
Elke kunsvorm, van teater tot dans, opera tot kabaret, die skone kunste tot kunshandwerk, klassieke musiek tot jazz, poesievoorlesings tot lesings, kom regdeur Suid-Afrika voor. Die land is ryk aan kulturele diversiteit wat dit `n belangrike bestemming maak vir alle kunsliefhebbers. `n Groot getal kunsgalerye bied geleentheid aan bekende en onbekende kunstenaars om hulle talente ten toon te stel. Die Departement van Kuns en Kultuur streef daarna om die Suid-Afrikaanse erfenis te ontwikkel en te bewaar om maatskaplike kohesie en nasiebou te verseker.
Leer van die kulture, die lewe en ervaringe van die verskillende mense van Suid-Afrika deur kulturele dorpies in die land te besoek. Kultuurdorpe wys die tradisionele leefwyse van die mense aan besoekers in `n natuurlike omgewing.
Aspekte soos tradisionele danse en rituele in die landelike gebiede, asook die stedelike en township milieus, gee aan Suid-Afrika sommige van sy onderskeidende eienskappe.
Al die tradisies van die Basoetoe word in die Basoetoe Kulturele Dorp bewaar wat 20 km van die Golden Gate Nasionale Park binne die QwaQwa Nasionale Park gelee is. By Kosibaai in Maputaland teen die noordkus van KwaZulu-Natal is `n toeristekamp wat deur die gemeenskap besit word.
Dit is gevestig rondom die huis van David Webster, `n antropoloog wat in die 1980`s omvattende veldwerk in die gebied gedoen het en wat deur een van die apartheidsregering se moordbendes om die lewe gebring is. Verder suid in dieselfde provinsie, gelee in die Vallei van `n Duisend Heuwels, is `n luukse viersterhotelkompleks, naamlik Shakaland. Hierdie terrein, hoewel nie so informeel en spontaan soos die Kosibaaiprojek nie, bevat `n stewig geboude Zoeloekraal wat dateer uit die tyd van Koning Shaka.
Agbare Voorsitter, 8 Januarie 2012 sal `n jaar van feesvieringe inlui om die honderdjarige bestaan van die ANC te vier, ondanks enige agenda wat in `n afskuwelike binnepot mag broei in `n poging om die ANC of sy beeld te vernietig. Afrika, die diaspora en die res van die internasionale gemeenskap is besig met voorbereidings om die honderdjarige bestaan in solidariteit met die ANC en Suid-Afrika te vier. In `n verklaring oor erfenis in Suid-Afrika, is dit die moeite werd om te noem dat die eerste sekretaris-generaal van die ANC, Solomon T. Plaatje, `n belangrike letterkundige, `n prominente vertaler en `n briljante uitgewer was; om net `n paar van sy bydraes tot die ontwikkeling van kultuur te noem. En dit is `n integrale deel van ons erfenis.
Soos ons volksdigter, Keorapetse Kgositsile, dit duidelik gestel het, was storievertellers, nog voor die bestaan van die boek, die bewaarders van `n volk se kollektiewe ervaring en geheue wat hulle kulturele waardes en erfenis gerig en beinvloed het. Voorsitter, in kort, selfs nog voor die boek, was letterkunde `n belangrike bewaarplek van `n volk se geheue, en kulturele waardes een van die belangrikste komponente van `n volk se erfenis; en so is dit steeds. Agbare Voorsitter, laat my toe om hierdie huis `n vraag te vra om oor na te dink: Hoe ver het ons vandag gevorder ten opsigte van geletterdheid en die leesgewoontes wat nodig is om die weg te baan vir leer en kultuur? Dit is nie `n geheim dat lees nie naastenby een van die gewilde nasionale tydverdrywe is nie.
Voorsitter, die Departement van Kuns en Kultuur werk saam met sy vennote in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-unie (AU) om museums en gedenktekens te bou en te opgradeer om die helde en heldinne van die bevrydingstryd te herdenk. Die Matolamonument en - vertolkingsentrum sal die Matola-inval van 1981 herdenk waartydens Suid-Afrikaanse vryheidsvegters deur die apartheidsregering gedood is. Die ANC-regering en Algerie werk saam aan `n projek wat Miriam Makeba wel bekend as Mama Afrika, vereer.
Baartman is in Brittanje uitgestal om mense te vermaak met wat as hoogs ongewone liggaamseienskappe beskou is. Daar was sedert die begin van die 1940`s sporadiese oproepe om haar stoflike oorskot terug te besorg, maar die saak het eers prominent geword nadat Stephen Jay Gould in die tagtigerjare "The Hottentot Venus" geskryf het. Na die ANC se oorwinning in die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994 het President Nelson Mandela amptelik versoek dat Frankryk haar oorskot teruggee. Na `n lang regsgetwis en debatte in die Franse Algemene Vergadering, het Frankryk op 6 Maart 2002 aan die versoek gehoor gegee.
Ten slotte wil ek benadruk dat die aanbreek van die demokrasie in Suid-Afrika unieke en opwindende geleenthede bied. Wat Erfenisdag waarlik verteenwoordig, is `n geleentheid om eerbied te toon teenoor die baie kulture, tale, tradisies en die verskeidenheid van erfenisse wat ons nasionale identiteit vorm. Albert Einstein het gese "verbeelding is belangriker as kennis", en ons verbeelding, kreatiwiteit en verskillende kulture sal ons help om ons drome te laat waar word. September is Erfenismaand, `n viering wat die buitengewone rykdom van die Suid-Afrikaanse maatskaplike stelsel toon. Ons het almal `n erfenis, `n plek van waar ons kom, voorvaders en `n geskiedenis. Maar, hier in ons jong demokrasie, skep ons `n nuwe erfenis en herkontekstualiseer ons die nalatenskap van die verlede. `n Erfenis waarbinne ons almal betekenis en uitdrukking vind en wat ons as Suid-Afrikaners deel.
Vir die eerste keer in die geskiedenis van ons land het alle kuns- en kultuurpraktisyns die reg om deel te neem aan die skep van openbare beleid en strukture wat hulle lewens en lewensbestaan regstreeks raak, en grootliks ook die gehalte van die lewe van die gemeenskap. Ons moet nou sing en dans, verf en skep. Dit is ons reg as Suid-Afrikaners. Daar is baie om na uit te sien, en so baie werk om te doen. Ons eerste doelwit is om met die samewerking van die Departement van Kuns en Kultuur, Departement van Basiese Opvoeding en die Departement van Sport en Rekreasie ons Lands Vlag en Volkslied uitbeeld deur dit `n vereiste te maak dat elke huis gesin `n Lands Vlag bekom en die Volkslied aanleer.
Ek vertrou dat ons dit saam, as `n verenigde gemeenskap met `n gesamentlike doel voor oe, sal kan doen. Agbare Voorsitter, ek hoop opreg dat die belangrike rolspelers in die beste belang van die kunste, kultuur en erfenis hulle almal by hierdie visie sal skaar.
Ek dank u.